VRYSTAAT. – ‘n Grootskaalse gesamentlike misdaadbekampingsoperasie in die Vrystaat het gelei tot die inhegtenisneming van 1 568 verdagtes, waaronder 531 ongedokumenteerde buitelanders.
Lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, sê die operasie is deur die polisie saam met verskeie staatsdepartemente en ander wetstoepassingsagentskappe uitgevoer. Dit het onder meer hoësigbaarheidspatrollies, padblokkades en voertuigkontrolepunte regoor die provinsie ingesluit. Tydens die optrede is meer as 1 000 gelisensieerde drankpersele, 50 skrootwerwe, 559 spazawinkels en informele ondernemings, asook 2 868 plase besoek om te verseker dat wetgewing nagekom word. Wetstoepassers het ook op 15 650 liter alkohol, 520 pakkies tabak, meer as 32 kg vermoedelik gesteelde koperkabels, 122 Mandrax-tablette, 224 g tik en byna 9,4 kg dagga beslag gelê.
Covane sê Operasie Shanela II sal voortgaan in misdaadbrandpunte en ander gebiede waar polisieteenwoordigheid versterk moet word.





