PARYS. – Werkers het Dinsdag by hul werkplekke gesweet en kinders het by die huis gebly terwyl ’n verstikkende vroeë-somerhittegolf groot dele van Wes-Europa verswelg het.
Skole is gesluit en spoorwegowerhede het teen reis gewaarsku nadat Brittanje, Frankryk, Italië en Spanje rooi waarskuwings asook gesondheidswaarskuwings weens die hitte uitgereik het.
Frankryk het sy warmste nag nóg op rekord beleef en berig dat 40 mense die afgelope vyf dae verdrink het terwyl hulle lafenis gesoek het in water. Kinders en volwassenes het die kans benut om selfs in die dammetjies en by fonteine langs oer-oue standbeelde af te koel.
Die hittegolf wat Frankryk sedert 17 Junie tref, het rekordtemperature van bykans 40 °C veroorsaak, meer as 800 skoolsluitings meegebring en gelei tot die kansellasie van 10 persent van die treine wat die Parys-streek bedien. Volgens die nasionale weerdiens, Météo France, is die hitte van “uitsonderlike” intensiteit en soortgelyk aan die hittegolf van Augustus 2003 wat 15 000 sterftes veroorsaak het.
Volgens France 24 het die navorser François Gemenne gesê dat aanpassing by hierdie veranderinge – met die opknapping van geboue en die heropening van die debat oor die grootskaalse installering van lugversorging – noodsaaklik sal wees om uiterste toestande in die toekoms te bekamp. Hy het bygevoeg dat die maatskaplike gevolge van hierdie veranderinge ook in ag geneem moet word.
Owerhede in Noord-Frankryk het hulle intussen gehaas om elektrisiteit aan duisende huishoudings te herstel ná kragonderbrekings tydens die versengende hittegolf.
Amptenare het gesê die onderbrekings, wat aan ’n transformatorfout gekoppel word wat deur die uiterste hitte veroorsaak is, het Dinsdag voorgekom, met hospitale en versorgingstehuise wat voorkeur gekry het vir noodkragopwekkers.
Bronne: France 24, DW





