Die polisie het tydens ’n operasie by City Deep in Johannesburg op ’n groot hoeveelheid vermoedelik gesteelde koper ter waarde van meer as R12 miljoen beslag gelê. Die operasie is deel van pogings om internasionale smokkelnetwerke hok te slaan.
Volgens lt.kol. Vincent Mukhathi het ’n span bestaande uit Gauteng se misdaadintelligensie, interpol, grenspolisie en private veiligheidsmaatskappye saamgewerk om die operasie suksesvol uit te voer.
Die saak spruit uit inligting wat van Zambiese owerhede ontvang is oor drie vragmotors wat met koper gekaap is. Ondersoek het gewys dat sommige van die voertuie met vervalste Tanzaniese nommerplate gery het om opsporing te vermy. Een van die betrokke vragmotors is later in Zambië gevind, waar dit geblyk het dat die registrasienommers aan ’n Suid-Afrikaanse logistieke onderneming behoort. Die voertuig is glo gebruik om die gesteelde koper te vervoer. Verder is vasgestel dat twee vragmotors met sowat 121 ton koper op 10 Junie met vermoedelik vervalste doeane-dokumentasie deur die Beitbrug-grenspos Suid-Afrika binnegekom het. Die polisie het op 18 Junie ’n opvolgoperasie by City Deep uitgevoer, waar 26 bondels koper met ’n geskatte waarde van R12,68 miljoen gekonfiskeer is.
Daar is ook ontdek dat die koper se oorspronklike reeksnommers afgeskuur is, waarskynlik om die herkoms daarvan weg te steek. Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie, maar ondersoeke duur voort terwyl die polisie alle moontlike leidrade volg.





