HOUSTON, TEXAS. – Aliyah Jaico (8) se liggaam is Saterdag in ’n swembadpyp by die DoubleTree-hotel in Houston ontdek nadat haar gesin haar nie kon opspoor nie.
Sy is die middag omstreeks 18:00 as vermis aangemeld nadat sy saam met gesinslede in die hotel se swembad geswem het. Kameras wat op die swembad gerig was, het gewys hoe sy onder die water verdwyn.
Die water is uit die swembad getap nadat sy nie in die vier grootste pype opgespoor kon word nie. ’n Klein kamera is in ’n ander pyp ingestuur en het Jaico se liggaam getoon.
Volgens die nooddienste het die swembadpyp nie reg gefunksioneer nie. Die pyp het verkeerdelik ’n suigaksie in plaas van ’n pompaksie gemaak.
Haar liggaam is uiteindelik na 13 uur verwyder. Volgens die hotel is die swembad gesluit. ’n Formele ondersoek na haar dood is begin.
Bronne: USA Today, KKTV





