BLOEMFONTEIN. – Menslike oorskot, oënskynlik dié van ‘n vrou, is gister in ’n gebou bekend as China City in St. Andrewstraat in Bloemfontein se middestad gevind ná ’n brand die gebou vroeg Sondagoggend 23 Augustus 2026 in puin gelaat het.
Volgens kapt. Loraine Earle, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse polisiediens, het Mangaung se noodsentrum om 03:49 daardie Sondag ’n oproep ontvang. Brand- en reddingspanne is dadelik na die toneel gestuur.
Luidens die polisieverklaring het brandweermanne hard gewerk om die brand onder beheer te bring. Weens die omvang van die skade en die onstabiele toestand van die gebou kon noodpersoneel nie dadelik na moontlike slagoffers begin soek nie. Die gebou moes eers veilig verklaar word.
Onder dié wat gehelp het, was kapt. Swannie Swanepoel, ’n hondehanteerder by Soek-en-Redding, saam met sy vierjarige Belgiese herdershond, Parco.
Die soekpan het versigtig deur die puin gesoek toe Parco ’n area aangedui het waar menslike oorskot was.
Die omstandighede rondom die brand en die identiteit van die oorledene word steeds ondersoek. Die oorskot sal die nodige forensiese prosesse ondergaan om die slagoffer se identiteit vas te stel.