GAUTENG. – Lindani Moses Maleka (30), ‘n metropolisiebeampte (JMPD), is Maandag kort nadat hy sy skof voltooi het in Sizanani Street, Extension 6A, Orange Farm doodgeskiet.
Komm. Patrick Jaca, JMPD-hoof, sê die departement is diep geskok oor die voorval en beskryf die aanval as sinneloos en tragies, terwyl medelye met die oorledene se familie en kollegas uitgespreek is. Volgens voorlopige inligting het die beampte by ’n woning aangekom om ’n kennis te besoek toe hy en ’n vroulike metgesel in sy voertuig deur onbekende verdagtes genader is. Die verdagtes het die vrou uit die voertuig gedwing voordat hulle op die beampte losgebrand het. Hy het noodlottige beserings opgedoen en is deur nooddienste op die toneel dood verklaar.
Sy diensvuurwapen is nie gesteel nie. ’n Saak van moord is by Orange Farm-polisiekantoor geopen en die polisie ondersoek die omstandighede van die aanval. Die JMPD doen ’n beroep op enigiemand met inligting om na vore te kom.



