MEXIKO. – Net suid van Mexikostad, binne-in die krater van ’n uitgedoofde vulkaan, lê die Veld van die Gode – een van die wêreld se mees asemrowende sokkervelde.
Volgens AOL kom dosyne gesinne uit die dorpie Santa Cecilia Tepetlapa met sowat 10 000 inwoners elke Sondag hier bymekaar om hul passie vir Mexiko se gewildste sport uit te leef. Hoewel sokkerveld is nie ‘n moderne argitektoniese of ingenieurswonder wat moderne sokkerstadions deesdae is nie, maar ‘n eenvoudige grondveld omring deur welige plantegroei.
Die Teoca-amateurliga bestaan uit tien spanne, waarvan elkeen ’n familie uit die klein nedersetting verteenwoordig. Daar is geen ouderdomsbeperking nie, en dit is nie ongewoon om tieners en pensioenarisse saam op die veld te sien speel nie. Hoewel vroue tans nie deelneem nie, ondersteun hulle hul gunstelinge entoesiasties langs die kantlyn.
Die Veld van die Gode het uit noodsaak ontstaan. Omdat Santa Cecilia Tepetlapa deur steil berghange omring word, was die uitgedoofde vulkaan die mees geskikte gelyk oppervlak vir ’n sokkerveld.
Hoewel die veld met die eerste oogopslag ietwat gehawend lyk, is die instandhouding daarvan ’n bron van groot plaaslike trots. Dorpenaars neem beurte om seker te maak dat dit in die beste moontlike toestand bly. Hulle versorg alles self en wys regeringshulp doelbewus van die hand.
“Ons vra nie munisipale ondersteuning nie, want as die plaaslike regering hierin belê, sal hulle probeer om eienaarskap daarvan op te eis. Hierdie heuwel behoort aan die gemeenskap; dit is die mense s’n, en ons onderhou dit omdat dit ons eie is. Deur die regering daaruit te hou, behou ons die veld vir onsself,” het ’n inwoner gesê.
Bronne: AOL, WTOP





