Suid-Afrikaanse motoriste en ondernemings kan vanaf 4 November tydelike verligting op brandstofkoste kry nadat Enoch Godongwana, minister van finansies, Woensdag in die mini-begroting ’n verlaging in die algemene brandstofheffing aangekondig het. Die heffing op diesel word aanvanklik met R3 per liter verlaag en dié op petrol met R1,50 per liter.
Die eerste fase duur tot 1 Desember, waarna die verligting teen laer bedrae voortgaan tot 5 Januarie 2027. Die aankondiging kom te midde van skerp stygings in brandstofpryse wat huishoudings en ondernemings onder druk plaas. Volgens Regeringsnuus – SAnews sal die dieselheffing in die tweede fase met R1,50 per liter en die petrolheffing met R1 per liter verlaag word.
Die maatreël sal na verwagting sowat R10 miljard se ondersteuning aan huishoudings en ondernemings bied, met dieselfde bedrag as koste vir die staatskas. Die geld kom uit inkomste wat in die 2025/26-boekjaar meer as verwag was en wat aanvanklik na die Sentrale Energiefonds oorgeplaas is. Godongwana sê die ingryping is daarop gemik om die druk op lewenskoste te verlig sonder om die volhoubaarheid van die begroting in gevaar te stel.
Die verlaging geld vir die brandstofheffing en beteken nie dat alle ander faktore wat die pompprys beïnvloed, verdwyn nie. Internasionale oliepryse, die wisselkoers en ander brandstofkoste kan steeds ’n rol speel in wat motoriste uiteindelik betaal.
Druk hier om meer te lees.