KWAZULU-NATAL. – Minstens 20 skool-leerlinge is vanoggend om ongeveer 07:00 in ‘n trompop-botsing beseer toe twee minibustaxi’s teen mekaar op die R69 Hlobanepad gebots het. Een daarvan was vol gelaai met leerlinge.
Craig Botha van KwaZulu Private Ambulance Service sê absolute chaos is op die toneel aangetref. ‘n Totaal van 24 beseerde persone is deur paramedici geassesseer en twee het lewensbedreigende beserings opgedoen wat kritieke kop- en borsbeserings ingesluit het. Een van hierdie beseerdes is ‘n sewejarige meisie wat gevorderde lewensondersteunende behandeling moes ontvang. Die ander kritiek beseerde persoon was ‘n man in sy 40’s wat in die wrak vasgekeer was. Nog drie pesone het ernstige beserings opgedoen, wat verskeie frakture en dalk ook ‘n rugbesering insluit. Nog 19 skoolleerlinge het geringe beserings opgedoen. Al die beseerdes is op die toneel gestabiliseer en is daarna na hospitale vervoer.
Botha sê die pad was vir ongeveer 90 minute gesluit. Die oorsaak van die botsing word deur die owerhede ondersoek.





