AfriForum het ’n skokonthulling gemaak aangaande skade wat die landboubedryf die afgelope boekjaar gely het.
Luidens ’n verslag deur AfriForum het die landboubedryf in die afgelope boekjaar 2025/2026 minstens R1 miljard in direkte verliese weens veediefstal gely. Hierdie bekendmaking kom te midde van ’n grootskaalse bek-en-klouseerkrisis. Die stygende brandstofpryse plaas ook druk op boere.
’n Totaal van 5 117 gevalle van veediefstal is in die vierde kwartaal van 2025/2026 by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangemeld. Dit bring die groottotaal vir die afgelope boekjaar op 23 251 te staan.
Hennie Bekker, AfriForum se streekskoördineerder vir die Mpumalanga Hoëveld, sê dat alhoewel die polisie se statistiek ’n afname van 9,8% in die aantal aangemelde veediefstalsake toon, dit nie die volle omvang en finansiële impak van veediefstal in berekening bring nie.
“Die voorkoms van veediefstal is beslis hoër as wat die misdaadstatistiek dit wil laat blyk.”
Bekker sê dat boere se vertroue in die polisie se veediefstaleenhede ’n laagtepunt bereik het. Daarom word die misdaad telkens nie meer aangemeld nie en lei dit tot ’n onderaanmelding van gevalle.
“Veediefstal is lankal nie meer net ’n kleinskaalse opportunistiese misdaad nie. Dit het nou omvorm tot ’n gesofistikeerde misdaad, waarby sindikate en selfs ook polisielede na bewering betrokke is,” sê Bekker voorts.
Lees ook Voormalige polisiekonstabel 12 jaar tronk toe vir veediefstal
https://nuusflits.com/voormalige-polisiekonstabel-12-jaar-tronk-toe-vir-veediefstal/
Hy sluit af deur te sê dat boere ’n moedige stryd voer om die land se mense te voer.
Bron: AfriForum





