MIDDE-OOSTE. – Die “vrede” tussen Israel en Iran is opnuut onder druk, nadat die twee lande weer missielaanvalle uitgeruil het. Dit terwyl die Houthi-beweging in Jemen ’n volledige verbod op Israeliese skepe in die Rooisee aangekondig het. Die jongste verwikkelinge het kommer oor stabiliteit in die streek laat toeneem en die olieprys die hoogte laat inskiet.
Donald Trump, Amerikaanse president, het intussen ’n dringende beroep op beide Israel en Iran gedoen om “onmiddellik op te hou skiet”. Hy het gewaarsku dat verdere militêre optrede die kanse op ’n wapenstilstand en vredesooreenkoms ernstig kan benadeel. Ontleders waarsku dat die jongste eskalasie in geweld vredespogings kan ontspoor en verdere ekonomiese druk wêreldwyd kan veroorsaak indien die konflik verder uitbrei.
Volgens internasionale berigte het Israel aanvalle op teikens in Iran uitgevoer nadat Iran missiele op Israel afgevuur het. Die uitruil van aanvalle word beskou as die ernstigste spanning sedert ’n skietstilstand vroeër vanjaar in werking getree het. Iran-gesteunde Houthi-rebelle het terselfdertyd aangekondig dat alle Israeliese skeepsverkeer in die Rooisee verbied word en dat sulke vaartuie as militêre teikens beskou sal word. Dié besluit wek kommer oor internasionale handel en die vervoer van olie deur een van die wêreld se belangrikste skeepsroetes.
Bronne: The Guardian, Ahram Online, The Times of Israel, War Zone, CNN





