WES-KAAP. – “Pappa, ek hoop jy geniet die tronklewe. Ek weet nie regtig hoe dit is om sonder ’n pa groot te word nie, en daarom voel ek jammer vir my klein sussie en boetie. Maar dit is jou eie skuld, want hoe kon jy dit doen?” ’n MIV-positiewe pa (41) is Vrydag in die Vredenburg-streekhof tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis, nadat hy sy 13-jarige dogter verkrag het sonder om ’n kondoom te gebruik, terwyl hy geweet het dat hy haar aan MIV blootstel.
Die man is skuldig bevind op twee aanklagte van verkragting en een van poging tot moord nadat hy ’n pleit-en-vonnisooreenkoms met die staat aangegaan het. Die hof het hom lewenslange gevangenisstraf vir die eerste verkragting, 35 jaar vir die tweede verkragting en 25 jaar vir poging tot moord opgelê. Al drie vonnisse sal samelopend uitgedien word. Die poging tot moord-skuldigbevinding spruit uit sy erkenning dat hy geweet het hy is MIV-positief en kon sy dogter met die virus besmet toe hy haar sonder ’n kondoom verkrag het.
Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê die man het erken dat die meisie sy biologiese dogter is. Sy het sedert die ouderdom van vier by hom gewoon nadat hy en haar ma uitmekaar is. Op 23 Mei 2025 het sy lewensmaat hom glo pornografiese materiaal gewys wat sy beweer het sy op die kind se selfoon gevind het. Dit het hom kwaad gemaak en hy het sy dogter aangesê om haar besittings te pak omdat hy haar na haar ma sou neem. Hy het egter met haar na ’n afgesonderde plek agter ’n strand in Paternoster gery. Daar het hy om die voertuig geloop, die passasiersdeur oopgemaak en haar aangesê om op haar rug te lê. Hy het haar broek en onderklere uitgetrek en haar verkrag voordat hy haar huis toe teruggeneem het sonder om haar by haar ma af te laai.
Streekhofaanklaer Chandre Minnaar het tydens vonnisoplegging aangevoer dat die slagoffer besonder kwesbaar was en op haar ouers moes kon staatmaak vir beskerming, versorging, leiding en veiligheid.
In haar slagofferimpakverklaring het die meisie gesê sy was hartseer en kwaad omdat haar eie pa haar so behandel het. Sy het gesê sy het dit nie van hom verwag nie en dat hy haar teleurgestel het, maar dat hy steeds haar pa is en dat sy hom baie liefhet. Sy het ook verwys na haar jonger broer en suster wat sonder hul pa sal moet grootword.
Die hof het die man onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. Hy is ook onbevoeg verklaar om met kinders te werk. Die hof het verder gelas dat sy naam in die nasionale register vir seksoortreders aangeteken word en dat die slagoffer en haar voog oor die vonnis ingelig word.