WES-KAAP. – Action Society het ‘n beroep op moontlike slagoffers van Achmat Alexander of die sogenaamde “Paarl-fotoverkragter” gedoen om na vore te kom terwyl Alexander se verhoor van verlede week af weer in die Paarl-streekhof voorkom en Leighché Thomas, die staat se eerste getuie, haar getuienis voortgesit het. Die sogenaamde “Paarl-fotograafverkragter” word daarvan aangekla dat hy sy niksvermoedende slagoffer onder die dekmantel van ‘n fotosessie gelok het, haar dan na ‘n afgeleë gebied neem, bedwelm en verkrag of seksueel aanrand.
Juanita du Preez, nasionale woordvoerder van Action Society, sê die hofsaak is tot 18, 19 en 21 Januarie 2027 uitgestel. Sy sê die staat sal na verwagting volgende jaar die ondersoekbeampte en die dokter wat Thomas ná die beweerde verkragting ondersoek het, laat getuig. Volgens haar is Action Society toenemend bekommerd dat daar moontlik nog slagoffers kan wees en moedig hulle enigiemand wat glo hulle is deur Alexander seksueel aangerand aan om na vore te kom.
Leighché se ma, Margerth Thomas, sê die jongste uitstel in die saak is vir die familie ‘n groot terugslag. Volgens haar beteken dit dat die beskuldigde nog ‘n Kersfees en Nuwejaar as ‘n vry man sal deurbring, terwyl hulle steeds op geregtigheid wag. Sy sê die saak duur reeds jare en elke uitstel verleng die emosionele las waarmee die familie moet saamleef. Action Society ondersteun Thomas en haar familie reeds meer as vier jaar nadat die ondersoek na haar saak aanvanklik vasgeval het. Gedurende dié tyd moes sy herhaaldelik hof toe terugkeer en telkens die traumatiese gebeure herleef in haar soeke na geregtigheid.
Die organisasie sê ‘n tweede vrou, wat Alexander ook van verkragting beskuldig, het hulle intussen aangestel om haar deur die strafregproses te ondersteun. Haar klagte is reeds by die owerhede aangemeld. Du Preez sê baie slagoffers bly stil uit vrees, skaamte of trauma, maar elke persoon wat na vore tree, kan ‘n belangrike bydrae lewer om die waarheid vas te stel en te verseker dat geregtigheid geskied. Sy sê Action Society sal voortgaan om albei klaers by te staan en die hofverrigtinge fyn dop te hou.





