Brekende Nuus
Nuus

Moordwalvisse bereik Valsbaai en word vir navorsing gemerk

Foto: Boatcompany Copyright Dave Hurwitz - [email protected]

WES-KAAP. – ’n Groot moordwalvisbul en ’n koei is in Valsbaai waargeneem nadat hulle die afgelope twee weke langs die Suid-Afrikaanse kus opgemerk is en glo verskeie pogings aangewend het om walviskalfies te vang.

Die walvisse is Vrydagoggend deur Simon’s Town Boat Company se bemanning en gaste opgespoor, waarna ’n span wetenskaplikes onder leiding van dr. Simon Elwen biop­sie-monsters vir DNS-ontleding geneem en ’n satellietmerker aan die walviskoei geheg het. Die bootoperateur het die ontmoeting as besonder suksesvol vir sowel besoekers as wetenskaplike navorsing beskryf. ’n Latere beeld wat aan die operateur gestuur is, dui ook daarop dat minstens een Kaapse pelsrob deur die moordwalvisse gevang en gevreet is.

Volgens Simon’s Town Boat Company het die paar aanvanklik by Kaysers Beach naby Oos-Londen verskyn, waar hulle na bewering ’n suidelike noorkapper se kalf gevang het. Hulle is daarna by Kids Beach en Plettenbergbaai waargeneem. Op 14 Oktober is beeldmateriaal van ’n poging om nog ’n suidelike noorkapperkalf te vang by Plettenbergbaai opgeneem. Die kalf se ma het glo sowat vier uur lank probeer om haar kleintjie te beskerm voordat die moordwalvisse die poging laat vaar het. 

Die paar is die volgende dag by Knysna en later naby Jongensfontein, aan die Suid-Kaapse kus, opgemerk. Hulle het daarna Hermanus bereik voordat hulle Valsbaai aangedoen het. In Valsbaai het die walvisse ook drie Kaapse pelsrobbe skielik laat opspring toe hulle naby hulle verbybeweeg het. Die satellietmerker sal navorsers help om die koei se bewegings te volg en meer oor die paar se jaggedrag en verspreiding langs die kus te wete te kom.

Foto met vergunning van fotograaf.

Bronne: Simon’s Town Boat Company, Sea Search Research and Conversation, Dyer Island Conservation Trust