GAUTENG. – Reddingspanne is onlangs na Randfontein ontbied na ‘n toneel waar ‘n motorfietsryer in “dryfsand” vasgeval het, wat nie sy gewig kon dra nie. Hy het vir sowat twee uur lank vasgesit, met sy bene stewig vasgevang, wat beweging onmoontlik gemaak het.
Search and Rescue South Africa (SARZA) sê Woensdag agt lede is op 31 Mei in samewerking met Gauteng EMS, SAPS K9-soek-en-redding, Netcare 911 en ander rolspelers na die toneel ontplooi waar die motorfietsryer in digte modder vasgesit het. ’n Werksplatform is gebou om veilige toegang vir mediese personeel en redders te verseker, waarna die pasiënt geëvalueer en behandeling begin is. Nadat sy liggaamstemperatuur gestabiliseer is, het spanne gefokus om sy bene veilig uit die modder los te maak – eers die een been en toe die ander een. ‘n Netcare 911-helikopter het die pasiënt op ‘n voorbereide landingsone ontvang en na ‘n hospitaal gevlieg.
SARZA sê die operasie is deur samewerking tussen verskeie nooddienste gekenmerk. Omstanders is bedank vir hul bystand.








