Brekende Nuus
Afrikaans

Motoris sterf nadat voertuig klippe tref

Foto: Live Traffic NPC

GAUTENG. ’n Motoris is dood nadat hy Sondagaand kort voor middernag op die R104 Pretoriaweg in Equestria, Pretoria, klippe getref het wat in die pad geplaas is.

Volgens Live Traffic NPC het die motoris in die rigting van Silverton gery toe hy groot klippe getref, beheer oor die voertuig verloor en teen ’n paal gebots het. ‘n Noodoproep is van motoriste ontvang wat verby die toneel gery het. Nood- mediese dienste, wetstoepassingsbeamptes en Tshwane se brand-en-reddingsdiens is daarna na die toneel ontbied. Die motoris is met die aankoms van nooddienste op die toneel dood verklaar.

Live Traffic het gewaarsku dat die doelbewuste plaas van groot klippe of ander voorwerpe in ’n pad ’n ernstige gevaar vir motoriste inhou. Motoriste word versoek om veral snags uiters waaksaam te wees en enige verdagte voorwerpe, groot klippe of ander obstruksies in die pad onmiddellik aan te meld. Live Traffic het sy medelye aan die oorledene se geliefdes betuig.