PARYS, FRANKRYK. – Emmanuel Nkosinathi (Nathi) Mthethwa (58), die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Frankryk, is Dinsdagoggend dood in die binnehof van die Hyatt Regency-hotel in Wes-Parys aangetref. Alhoewel geen tekens van betrokkenheid van ‘n derde party in die kamer op die 22ste verdieping gevind is nie en dit op moontlike selfdood dui, word sy dood ondersoek.
Sy skielike en skokkende dood het tot grootskaalse reaksie gelei, terwyl Franse owerhede ’n formele ondersoek gelas het.
Laure Beccuau, Paryse aanklaer, sê in ‘n verklaring Mthethwa het Maandagaand vermis geraak nadat sy vrou die polisie gewaarsku het. Volgens haar het hy vir haar ’n verontrustende boodskap met ‘n wanhopige toon gestuur waarin hy haar om verskoning vra.
Hotelpersoneel het sy liggaam die volgende oggend in die binnehof van die hotel gevind nadat hy ‘n kamer op die 22ste verdieping bespreek het. Daar is nie bevestig of ‘n formele selfdoodbrief agtergelaat is nie.
“Die ondersoek sal fokus op die omstandighede van mnr. Mthethwa se val. Die veiligheidsmeganisme van die venster in sy kamer is gemanipuleer of geforseer. Daar is geen tekens van ’n geveg of struweling in die kamer nie, en geen onmiddellike spore van dwelms of medikasie is gevind nie. Alhoewel daar geen aanduiding is van derdeparty-betrokkenheid nie, word alle moontlikhede tans deeglik ondersoek. ’n Pligdienende regter is aangestel, en forensiese spanne het die kamer en die omliggende gebied geïnspekteer. Die ondersoek duur voort.”
Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) het Mthethwa se dood met “diep hartseer” bevestig en hulde aan hom gebring. “Die regering van die Republiek van Suid-Afrika maak met diepe hartseer en innige spyt die onverwagte heengaan bekend van Z.H. Ambassadeur Nkosinathi Emmanuel Mthethwa, Suid-Afrika se ambassadeur in die Franse Republiek,” lui die verklaring. Mthethwa se loopbaan is gekenmerk deur toegewyde diens in belangrike ministeriële portefeuljes, insluitend minister van polisie en minister van sport, kuns en kultuur. Minister Ronald Lamola het gesê: “Ek betwyfel nie dat sy heengaan nie net ’n nasionale verlies is nie, maar ook in die internasionale diplomatieke gemeenskap gevoel sal word.”
President Cyril Ramaphosa het sy meegevoel uitgespreek en gesê: “Ambassadeur Mthethwa se dood is ’n tragiese verlies vir sy familie en vir die land. Ons dink aan sy vrou, Philisiwe Buthelezi, en sy geliefdes in hierdie moeilike tyd.”
Mthethwa is in Desember 2023 as ambassadeur in Frankryk aangestel en het in Februarie 2024 sy geloofsbriewe oorhandig. Hy het ook as Suid-Afrika se permanente afvaardiging by Unesco in Parys gedien.
Voor sy diplomatieke pos het hy as minister van polisie (2009–2014), daarna as minister van kuns en kultuur, en later as minister van sport, kuns en kultuur in SA gedien. Sy tyd as polisieminister is onlangs weer in die kollig geplaas tydens ’n geregtelike kommissie waarin beweer is dat hy by sekere ondersoeke ingegryp het.
Lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi het voor die Madlanga-kommissie van ondersoek na misdaad, politieke inmenging en korrupsie in die strafregstelsel getuig dat Nathi Mthethwa, tydens sy termyn as minister van polisie (omstreeks 2011), glo vir Faith Radebe, die voormalige inspekteur-generaal van intelligensie, gedwing het om ‘n strafregtelike saak teen Richard Mdluli terug te trek. Volgens Mkhwanazi het Mthethwa hom glo saam met Radebe na ’n vergadering geroep en daar gesê dat die vervolging gestaak moes word. Hy het dié beweerde ingryping beskryf as “die ergste politieke inmenging wat ek nog ooit ervaar het.”
Bronne: EWN, Mail and Guardian, Associated Press, People, DIRCO en AFP/France24