KWAZULU-NATAL. – ’n 34-jarige munisipale werknemer is Maandag ernstig beseer nadat sy na bewering deur ’n vragmotor by die kruising van Todd- en Irelandstraat in Verulam se middestad, KZN, gesleep is.
Volgens Reaction Unit South Africa (Rusa) het die vrou en ’n kollega, albei werknemers van Durban Solid Waste (DSW), hul werk afgehandel en op die sypaadjie na die taxistaanplek gestap toe die voorval plaasgevind het. Die kollega het gesê ’n metaalhefboom wat by die kant van ’n wit Isuzu-vragmotor uitgesteek het, het aan die vrou se broek vasgehaak en haar gesleep terwyl die voertuig voortbeweeg het. Die 33-jarige bestuurder het na bewering eers besef wat gebeur het toe hy naby die verkeersligte in sy truspieël gekyk en die vrou onder die vragmotor gesien het. Hy was onderweg na Wickstraat om ’n yskas-vrieskas af te lewer.
Rusa-paramedici het die vrou op die toneel gestabiliseer vir ernstige beserings aan haar regterhand en linkerpols voordat sy na ’n hospitaal vervoer is.