WES-KAAP. – Die N1 FW de Klerk-boulevard in Kaapstad is vroeg Maandagoggend weer in albei rigtings oopgestel nadat ’n vragmotor teen ’n voetgangerbrug gebots en die struktuur beskadig het. Betonpuin het op die snelweg beland, wat noodsaaklike herstelwerk en die tydelike sluiting van die pad in albei rigtings genoodsaak het.
Raadslid Rob Quintas, burgemeesterskomiteelid vir stedelike mobiliteit, het bevestig dat twee hyskrane gebruik is om ’n beskadigde gedeelte van die brug op te lig en weer in posisie te bring. Die werk is in die vroeë oggendure voltooi, waarna alle puin verwyder en die N1 teen 04:30 Maandagoggend vir verkeer in en uit die middestad oopgestel is. Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, het die Stad Kaapstad en almal wat by die herstelwerk betrokke was, geprys omdat die pad in rekordtyd heropen kon word. Verdere herstelwerk en kosmetiese afwerkings sal na verwagting dié week beplan word.
