MPUMALANGA. – Twee minderjariges is onder die agt mense wat dood is nadat ’n Toyota- en Volkswagen-sedan vanoggend (Sondag) omstreeks 01:30 in ’n kop-aan-kop-botsing op die N17-tolpad tussen Ermelo en Davel betrokke was.
Moeti Mmusi, woordvoerder van die departement van gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, sê die ongeluk het naby die Ermelo-tolplaza plaasgevind. Sewe van die oorledenes was insittendes van die Volkswagen, terwyl die agtste oorledene die bestuurder van die Toyota was. Hy was die enigste persoon in die voertuig. Geen verdere beserings is aangemeld nie. Die oorsaak van die ongeluk is nog onbekend, maar roekelose en nalatige bestuur kan volgens die departement nie uitgesluit word nie. ’n Ondersoek is reeds begin.
Jackie Macie, Mpumalanga se LUR vir gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, het motoriste weer aangemoedig om groter versigtigheid op die paaie aan die dag te lê. Macie het ook sy innige meegevoel aan die families van die oorledenes betuig.