Lees ook: Nelson Mandela se kleinseun kritiseer Meghan Markle
VK.- Die skrywer van ’n boek oor die Engelse koninklike familie is in die sop na die name van twee koninklikes wat glo rassisties was teenoor Meghan Markle bekend gemaak is.
In die Nederlandse weergawe van die boek, Endgame, word dit bekend gemaak dat koning Charles en Kate, prinses van Wallis, die twee was wat glo ‘n opmerking oor die kleur van Meghan en Harry se kind gemaak het.
Prins Harry en Meghan het in 2021 tydens ’n onderhoud met Oprah Winfrey gesê twee lede van die koninklike familie het glo die kleur van hulle baba se vel bespreek.
Die skrywer van Endgame, Omid Scobie, het gesê hy het op sosiale media uitgevind die name is in die Nederlandse boek ingeskryf en dat hy nie weet hoe dit gebeur het nie.
In die Engelse weergawe van die boek skryf Scobie hy weet wie die persone is, maar mag om wetlike redes nie die name gee nie. Scobie het gesê die name is nie opsetlik bekend gemaak nie, maar hy weier om om verskoning te vra, “want hy wil weet wat gebeur het”.
Die Nederlandse weergawe van die boek is intussen van die rakke afgehaal.
Buckingham-paleis het slegs gesê hulle ondersoek alle opsies ná die BBC hulle vir kommentaar gevra het.
Bronne: BBC, The Mirror, Evening Standard
Lees ook: Nelson Mandela se kleinseun kritiseer Meghan Markle





