Meer as R1 miljard is in groot boerpotte gewen sedert Sizekhaya Holdings op 1 Junie die bestuur van die Suid-Afrikaanse Nasionale Lotery oorgeneem het.
Sizekhaya het dié week sy eerste 100 dae as loteryoperateur gevier en sê die oorgang vanaf die vorige operateur is sonder onderbreking voltooi. Volgens die maatskappy het ’n KwaZulu-Natalse speler reeds drie dae ná die oorname sowat R128 miljoen met PowerBall gewen. Dit is gevolg deur verskeie groot pryse, waaronder drie PowerBall Plus-wenners wat elk meer as R45,7 miljoen gewen het. ’n Gautengse Lotto-wenner het R69 miljoen ingepalm, terwyl nog ’n Lotto-wenner R20 miljoen gewen het. Die jongste groot wenner was volgens Sizekhaya ’n speler van Soweto wat R93,5 miljoen in die PowerBall-trekking gewen het.
Die nuwe operateur sê dit het ook verskeie veranderinge aan die Nasionale Lotery ingestel, waaronder die terugkeer van regstreekse televisietrekkings, sogenaamde cascading jackpots, verbeterde boerpot-kansberekeninge, asook die terugkeer van krapkaarte en USSD-spel. Volgens Sizekhaya is daar tans 6 505 aktiewe terminale landwyd. Kaartjies is ook deur groot bankplatforms beskikbaar, terwyl ’n nuwe vennootskap met die Suid-Afrikaanse Poskantoor kaartjieverkope en sekere prys-eise by 60 takke moontlik maak. Die maatskappy sê dit het ook die verifikasie en versoening van historiese prysadministrasierekords voltooi, wat dit moontlik gemaak het vir mense met wenkaartjies wat voor 1 Junie gekoop is om weer hul eise deur die toepaslike prosesse in te dien.
Bronne: Sizekhaya, SA Regering