Die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur (NatJoints) sê alles is in plek om te verseker dat die komende kiesersregistrasie-naweek veilig, vreedsaam en goed georganiseer verloop. Die planne is saam met verskeie staatsdepartemente en veiligheidsinstansies opgestel om enige moontlike ontwrigting te voorkom.
Brig. Athlenda Mathe sê die polisie, saam met ander rolspelers binne NatJoints is ten volle gereed om die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK/IEC) te ondersteun sodat alle kwalifiserende burgers veilig kan registreer om te stem. Volgens NatJoints is polisiebeamptes landwyd ontplooi by registrasiesentrums, belangrike roetes en gebiede wat as risikopunte geïdentifiseer is. Die operasies sluit sigbare polisiëring, intelligensie-werk, openbare orde-eenhede en vinnige reaksiespanne in.
Die struktuur sê ook dat noodplanne gereed is om vinnig op enige voorvalle te reageer wat die registrasieproses kan ontwrig. Hoewel vreedsame betogings volgens die Grondwet toegelaat word, waarsku NatJoints dat geen persoon of groep toegelaat sal word om registrasie-aktiwiteite te ontwrig, kiesers te intimideer of die werking van registrasiesentrums te belemmer nie.
Enige geweld, skade aan eiendom, padblokkades of inmenging met kritieke infrastruktuur sal streng volgens die wet hanteer word. NatJoints doen ’n beroep op die publiek om verantwoordelik op te tree en by te dra tot ’n veilige en suksesvolle registrasieproses.






