WES-KAAP. – Nog ‘n verdagte (20) wat glo verbind word met die massaskietery waarin nege mense op 17 Januarie vanjaar in Marikana dood is, is Vrydag in die oggendure deur polisiebeamptes van Operasie Lockdown III in Lower Cross-weg, in Philippi, in hegtenis geneem.
Konst. Ndakhe Gwala, polisiewoordvoerder, het in ‘n verklaring bevestig dat beamptes omstreeks 00:40 op die verdagte se woning toegeslaan het. Vier selfone is in sy besit gevind en gekonfiskeer. Die verdagte is ná sy inhegtenisneming by die Lentegeur-polisiekantoor aangehou.
Hy sal na verwagting vandag (Maandag) sy eerste hofverskying in die massaskieterysaak in die Mitchells Plain-landdroshof maak.





