Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se ondersoekdirektoraat teen korrupsie (IDAC) het verkeerde en misleidende berigte oor die sogenaamde inhegtenisnemings van polisiebeamptes ontken. Daar is egter twee lasbriewe vir inhegtenisneming vir lt.genl. Dumisani Khumalo en genl.maj. Nosipho Madondo uitgereik wat vir eers gekanselleer is.
Dit volg ná wydverspreide spekulasie op sosiale media en in die hoofstroommedia ná ’n vorige verklaring. NVG-woordvoerder Kaizer Kanyago sê slegs twee lasbriewe is vir inhegtenisneming uitgereik en dat geen ander polisiebeamptes betrokke is nie. Die twee senior beamptes is aanvanklik gekontak om hul by die Brooklyn-polisiekantoor aan te meld.
Kort daarna het IDAC egter nuwe inligting ontvang dat hulle deel is van ’n span wat werk aan belangrike nasionale veiligheidsvoorbereidings rondom immigrasiekwessies vir 30 Junie. Weens hul betrokkenheid by dié operasie, wat tot einde Junie duur, het die direktoraat besluit om die uitvoering van die lasbriewe tydelik uit te stel. Die beamptes is toe ingelig dat hulle nie meer hoef aan te meld soos oorspronklik versoek nie.
IDAC waarsku dat enige ander bewerings oor verdere inhegtenisnemings van polisiebeamptes onwaar is en nie vertrou moet word nie.





