GAUTENG. – Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het Donderdag gewaarsku dat iemand adv. Andy Mothibi, die nasionale direkteur van openbare vervolging, se naam en foto in boodskappe vanaf ’n ongemagtigde selfoonnommer gebruik. Volgens inligting wat die NVG ontvang het, word die nommer as Mothibi s’n voorgehou en is mense glo daarvandaan gekontak deur iemand wat beweer dat hy namens Mothibi optree.
Die NVG het in ’n verklaring gesê enigiemand wat ’n verdagte oproep, WhatsApp-boodskap of ander kommunikasie ontvang, moet eers deur amptelike NVG-kanale vasstel wie dit gestuur het voordat hulle persoonlike of vertroulike inligting deel, geld oorbetaal of instruksies volg. Mense wat reeds gekontak is, moet boodskappe, skermgrepe, stemnotas, oproeprekords en telefoonnommers bewaar, asook enige versoeke of instruksies wat hulle ontvang het. Die saak geniet volgens die NVG dringende aandag.