Bepalende groepswedstryde
Hoërskool Oos-Moot, in Pretoria, was die gasheer vir die afgelope naweek van 20/21 Maart se tweede en finale groepswedtryde van poel 3 in die NWU Skolesportreeks. Beide skole het reeds hul wedstryde teen Hoërskool Transvalia gespeel met gemengde resultate vir die netbal, rugby en hokkie spanne. Hierdie was dus die deurslaggewende wedstryde om posisies vir die semi-finale wedstryde te bepaal.
Seunshokkie
Die naweek se stryd het Vrydag afgeskop met die seuns hokkie asook die O14B en O15B dogters hokkiespanne. In die O14 en O16 wedstryde het Middies hul goeie vorm teen Transvalia voortgesit en die Oosies vermorsel (O14S 8 – 0 en O16S 14-0).
Die hoogtepunt van die aand was verseker die seuns eerstespan wedstryd. Die elektriese atmosfeer is gekenmerk deur krete en aansteeklike sang deur beide skole. Altwee spanne het aanskoulike hokkie gespeel en die toeskouers op hul voete gehou het. Uiteindelik moes die Oosies die knie buig 2 – 1 in ‘n wedstryd wat op geen stadium ‘n oorweldigende gunsteling gehad het nie.
Dogtershokkie – Middies oorheers
Saterdag was die hoofvertoning van die dogtershokkie. Middies se O14(A & B), O16 (A & B) asook die tweede spanne het skoonskip gemaak. Hulle het nie ‘n enkele doel teen hulle afgestaan nie. Die atmosfeer wat geheers het met die hoofwedstryd was weereens ‘n hoofwedstryd waardig. Oos-Moot se eerstespan was van eerste fluitjie af op die aanval en het uitstekend verdedig. Die Oosies het ‘n paar naelbyt kanse by die Middie doelhok gehad maar die uitsonderlike verdediging het die Middies het die Oosies doelloos gelaat. Middelburg wen uiteindelik die wedstryd 2 – 0 in wat as ‘n opwindende en mededingende wedstryd beskryf kan word.
Netbal – gemengde resultate
Op die netbalbane was die wedstryde meer mededingend. Uit die 13 wedstryde wat gespeel is, wen die Middies 7. Die hoofwedstryd tussen die eerstespanne het vir baie opwinding gesorg op ‘n baan wat omring was deur ondersteuners. Hier het die Oosies hul goeie vertoning teen Transvalia voortgesit en van die begin af oorheers. Hulle wen uiteindelik die wedstryd 45 – 13.
Rugby sorg vir verrassings
Saterdag se rugbywedstryde het gesorg vir aanskoulike spel asook ‘n paar verrassings. Hoërskool Middelburg wen uiteindelik 5 van die 10 wedstryde met beide O14 en O15 spanne asook die vierde span wat wenne aanteken. Hoërskool Oos-Moot se krag het gewys by die senior spanne met wenne vir die O16A, derde en tweede spanne.
Die hoofwedstryd van die dag het vir baie aksie gesorg wat nie altyd goeie rugby was nie. Veral in die eerste helfte het die wedstryd gesukkel om aan die gang te kom. Die Blou Golf van die Oosies het moeilik gerol. Hulle is in totaal 4 keer met geel kaarte gestraf en het selde die bal in hand gehad. Twee vinnige drieë laat in die tweede helfte het skielik aan die Oosies ‘n voorsprong besorg. Middies het vinnig die gaping laat krimp met twee strafskoppe. Die Oosies wen uiteindelik die wedstryd met 21 – 20. Dit is ‘n reuse oorwinning vir die Oosies wat met 1 punt (26-27) teen Transvalia verloor het. Middies het wel 24-15 teen Transvalia gewen. Die Oosies eerstes eindig bo in poel 3.
Semi-finale wag
Die NWU Skolesportreeks staan einde se kant toe met die semi-finale wedstryde wat op 11 April 2026 plaasvind. Die Oosies is hoopvol met drie rugbyspanne (eerstes, tweedes and O16A) wat teen die Hoërskool Menlopark gaan uitrol. Hoërskool Transvalia en HTS Middelburg sal gashere wees vir hierdie semi-finale wedstryde.
Fotos deur Lulu’s Sport Pics








