OOS-KAAP. – Die doodsondersoek van Steve Biko (30), die anti-apartheidsaktivis, word Vrydag, presies 48 jaar ná sy dood, deur die NVG heropen. Daar word beoog om nuwe getuienis te bied sodat die hof kan bepaal of sy dood aan ‘n misdryf toegeskryf kan word.
Luxolo Tyali, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring Biko is op 18 Augustus 1977 by ’n padblokkade naby Grahamstad (Makhanda) in hegtenis geneem omdat hy glo ‘n bevel wat sy beweging tot King Williamstown (Qonce) beperk, oortree het. Hy is by die Walmer-polisiekantoor in Port Elizabeth (Gqeberha) aangehou, waar hy glo gemartel is. Hy is na bewering nakend met voetboeie in ‘n sel aangehou waarna hy ná 24 dae mediese hulp ontvang het.
Op 11 September 1977, steeds nakend en bewusteloos, geboei, is hy 1 200 km ver in die agterkant van ‘n polisie-Land Rover na ‘n tronkhospitaal in Pretoria vervoer. Hy het die volgende dag buite die hospitaal gesterf.
Tyali sê:”Die oorsaak van Biko se dood is destyds as uitgebreide breinbesering, veroorsaak deur sentralisering van bloedsirkulasie en intravaskulêre bloedstolling, akute nierversaking en uremie, aangeteken.”
’n Amptelike doodsondersoek is in November 1977 gehou. Tydens dié ondersoek het lede van die apartheidsveiligheidspolisie se berugte veiligheidstak beweer dat Biko sy beserings opgedoen het toe hy sy kop teen ’n muur gestamp het. MJ Prins, die hooflanddros, het die veiligheidstak se weergawe aanvaar. Die mediese praktisyns wat hom in die tronk behandel het, is ook vrygespreek.
Op 2 Febuarie 1978 het die destydse prokureur-generaal van die Oos-Kaap geweier om vervolging in te stel. Die Waarheids-en-Versoeningskommissie het in 1997 amnestie-aansoeke deur vyf betrokke beamptes weens teenstrydige en vals getuienis geweier. Die betrokke voormalige polisiebeamptes is maj. Harold Snyman, kapt. Daniel Petrus Siebert, kapt. Jacobus Johannnes Oosthuysen Benecke, AO Rubin Marx en sers. Gideon Johannes Nieuwoudt
Die NPA sê die heropening beoog om nuwe getuienis aan te bied sodat die hof kan bepaal of Biko se dood aan ’n misdryf toegeskryf moet word. Dit is ook ‘n poging om die gruweldade van die verlede aan te spreek en reg en afsluiting vir die Biko-familie en die samelewing te bied.





