GAUTENG. – ’n 29-jarige onderwyser van Laerskool Michael Zulu in Tsakane is Maandagoggend omstreeks 07:00 doodgeskiet terwyl hy saam met leerlinge op pad skool toe was.
Onwabile Lubhelwana, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, sê die onderwyser het volgens voorlopige inligting saam met ’n groep leerlinge gestap toe hy by die hoek van Dunge- en Masingastraat, minder as ’n kilometer van die skool, geskiet is. Die motief vir die skietery is nog onbekend en vorm deel van die polisie-ondersoek.
Die departement het onmiddellik psigomaatskaplike ondersteuning by die skool gebied. ’n Distrikspan is ontplooi om trauma-ondersteuning aan geraakte leerlinge te bied, terwyl ondersteuning ook aan onderwysers en personeel beskikbaar gestel is. Die departement werk verder saam met die oorledene se familie om seker te maak dat hulle die nodige berading en ondersteuning ontvang.
Enigiemand met inligting wat die ondersoek kan help, word versoek om dit aan die polisie bekend te maak.





