VRYSTAAT. – Nege ongedokumenteerde buitelanders is by ‘n fabriek op ‘n plaas naby Reitz, waar koekies vervaardig word, in hegtenis geneem nadat die polisie inligting ontvang het dat hulle na bewering onwettig by die onderneming werk.
AO Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, sê die Thabo Mofutsanyana-distrik se operasionele bevelsentrum het inligting ontvang waarna ‘n klopjag by die fabriek uitgevoer is. Al nege die ongedokumenteerde buitelanders is in hegtenis geneem en bly in aanhouding terwyl immigrasie- en ander administratiewe prosesse afgehandel word. Die plaaslike munisipaliteit is intussen oor die saak ingelig, en die fabriek sal na verwagting gesluit word, hangende verdere ondersoek.
Verdere optrede kan ook teen die eienaar van die onderneming volg weens beweerde oortredings van toepaslike wetgewing.





