‘Onthou Daniël vir die seuntjie wat hy was,’ pleit sy ma

Lees ook :

Foto: Action Society

WES-KAAP. – In haar slagofferimpakverklaring het Maria Jamneck haar seun, Daniël, beskryf as ‘n liefdevolle kind wat die natuur geniet het, daarvan gedroom het om eendag ‘n veearts te word en baie geheg was aan sy jonger sussie. Sy het gevra dat Daniël nie net onthou moet word vir die wyse waarop sy lewe beëindig is nie, maar vir die besondere seuntjie wat hy was. Die man wat die jong seun verkrag en vermoor het, is tot twee keer lewenslange tronkstraf gevonnis.

Action Society sê die vonnis wat die man ontvang het vir die verkragting en moord op die 8-jarige Daniël Jamneck, bring geregtigheid, maar kan nooit die verlies van ‘n geliefde kind ongedaan maak nie. Die organisasie dring ook aan op groter aanspreeklikheid om te voorkom dat gevaarlike herhaalde seksuele oortreders weer kinders kan benadeel.

Juanita du Preez, bedryfshoof en woordvoerder van Action Society, sê die organisasie sal aanhou om te veg vir veranderinge in die strafregstelsel nadat die Wes-Kaapse Hooggeregshof die beskuldigde tot twee lewenslange tronkstrawwe gevonnis het – een lewenslange vonnis vir verkragting en een vir moord.

Hy is ook tot 10 jaar tronkstraf vir die verkragting van Caren Brown gevonnis en agt jaar vir die seksuele aanranding van Daniël. Die hof het verder gelas dat sy naam in die nasionale register vir seksoortreders aangebring word en hy verbied word om ooit weer met kinders te werk of ‘n vuurwapen te besit. Voorts is bepaal dat Daniël se ma en Brown insette kan lewer indien hy ooit vir parool oorweeg word.

Volgens Action Society het Maria Jamneck en Caren Brown mekaar se hande vasgehou terwyl hulle op die vonnis gewag het – twee vroue wie se lewens deur dieselfde oortreder onherroeplik verander is. Du Preez sê die organisasie glo die saak wys op ernstige tekortkominge in die strafregstelsel. Volgens haar het die beskuldigde, wat reeds ‘n geskiedenis van seksuele misdrywe gehad het, vry gebly ondanks vorige waarskuwingstekens. Sy sê Action Society sal voortgaan om aanspreeklikheid te eis sodat soortgelyke tragedies in die toekoms voorkom kan word.

Die organisasie sê hoewel die vonnis ‘n mate van geregtigheid bring, sal die verlies wat Daniël se familie ly, vir altyd deel van hul lewens bly. Maria het dit in haar verklaring só verwoord: “Hartseer kom kuier nie by my nie – dit leef saam met my.”

Bron: Action Society

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief