OOS-KAAP. – Die Landbounavorsingsraad (LNR) bevestig dat uitsettings op die Umtiza-navorsingsplaas in Oos-Londen weens volgehoue onwettige grondbesetting voortgaan.
Volgens ‘n verklaring van dr. Litha Magingxa, president en uitvoerende hoof van die LNR, is ’n uitsettingsbevel in Mei 2024 vir verskeie gedeeltes van die plaas verkry, maar die onwettige besetters het nie die bevel nagekom nie en eerder nuwe strukture opgerig.
Magingxa sê die balju van Oos-Londen en die Suid-Afrikaanse Polisiediens is tans besig om die uitsettings uit te voer, nadat vorige pogings deur hofaksies van die besetters vertraag is. Hy sê voorts die LNR bly bekommerd oor die voortgesette onwettige okkupasie en waarsku dat mense steeds geld bestee aan die aankoop van onwettige erwe.
Volgens hom moet gemeenskappe enige persone wat onwettige grondverkope bevorder, by die polisie aanmeld en moet hulle nie aangemoedig word om onwettige grond te betree of te koop nie.






