MPUMALANGA. – Sewe beskuldigdes sal na verwagting op 27 November in die Ogies-landdroshof verskyn nadat die polisie en die Valke op 27 Junie by Kendal Plot 11 in Ogies op ’n vermeende onwettige drankaanleg afgekom het. Die geregistreerde eienaar van die perseel is Woensdag in hegtenis geneem.
Vier 1 000 liter-dromme met ongemerkte drank, asook vervaardigingstoerusting, chemikalieë en verpakkingsmateriaal is in beslag geneem toe op die perseel toegeslaan is. Die Valke raam die waarde van die beslaglegging op R600 000.
Lt.kol. Magonseni Nkosi, Valke-woordvoerder, sê ondersoekbeamptes het Anthony De Canha Franca (35) as die geregistreerde huurder van die perseel geïdentifiseer. Hy was volgens die Valke afwesig tydens die klopjag en is op 11 November in hegtenis geneem. Die hof het hom op borgtog van R3 000 vrygelaat. Drie Mosambiekers – Jostino Kumbani (25), Heno Kumbani (19), en Nelson Makwakwa (22) – bly in aanhouding. Destin Dumuza (22), ‘n Malawiër, Cedric Helengwa (31), ‘n Zimbabwiër en nog ‘n man met dieselfde naam van Malawiese afkoms is op borgtog van R3 000 elk vrygelaat. Die aanklagte hou verband met oortredings van die Doeane- en Aksynswet en die Immigrasiewet.