LIMPOPO. – Grensbestuursowerheid-amptenare het verlede week sowat 84 kilogram veemedikasie op ’n vliegtuig van Kenia en Tanzanië onderskep. Volgens dr. Michael Masiapato, die owerheid se kommissaris, was die Berenil-voorraad op pad na Pietermaritzburg sonder die vereiste invoerpermitte soos wat die dieresiekteswet voorgeskryf word.
Die middel is gekonfiskeer en vir ontleding na die Onderstepoort Veterinêre Instituut gestuur. Masiapato het gesê die owerheid het te midde van die huidige bek-en-klouseer-uitbreking waaksaamheid by grensposte verhoog. “Ons onderskep onwettige invoer van enige ongetoetste veeprodukte.”
Bek-en-klouseer wat tans in die land beveg word, is ’n hoogs aansteeklike virussiekte wat verskeie landboudiere raak en ernstige ekonomiese gevolge het. Entstofgebruik word egter deur die staat beheer en slegs wettig verkrygde entstowwe mag gebruik word.
Die owerheid sê sy hawelandbou-eenheid bly verbind tot die ondersteuning van biosekuriteit en die beskerming van plaaslike produsente.
Druk hier om meer te lees.





