WES-KAAP. – ’n Vroulike Metro-polisiebeampte is glo in die middel van die nag in volle uniform sonder vervoer gelaat en gedwing om duim te gooi.
Jonathan Cupido, GOOD-raadslid in die Stad Kaapstad, sê in ‘n verklaring die vroulike beampte was sonder haar dienspistool en glo weens beleid wat haar sonder ondersteuning gelaat het omdat sy buite munisipale grense woon, blootgestel. “Geen beampte behoort ooit kwesbaar, ongewapen en sonder ondersteuning deur die Stad wat sy dien agtergelaat te word nie,” het hy gesê. Hy het bygevoeg dat die beleid, ingestel ingevolge Hoofkantoor-Instruksie 03/2022, lewens in gevaar stel, asook openbare veiligheid en personeel sowel as die Stad aan onaanvaarbare risiko’s blootstel.
“Sy was nog in uniform, het die Stad verteenwoordig en is deur ’n stelsel agtergelaat wat haar vervoerondersteuning geweier het bloot omdat sy buite die Stad se grense woon.”
Hy het die moontlikheid geopper dat die beampte aangeval kon word of dat haar uniform gebruik kon word om misdade te pleeg. Volgens hom is dit werklike risiko’s wat die Stad nie aanspreek nie.
GOOD het gevra vir die onmiddellike opskorting en hersiening van die huidige reisbeperkingsbeleid, met dringende wysigings om veilige en waardige vervoer vir alle veiligheidswerkers te verseker, hetsy binne of buite die Stad se grense. Cupido het gesê niemand in uniform behoort ooit weer alleen langs die pad te staan nie.
GOOD hersien tans die beleid en sal ’n mosie aan die Raad voorlê vir moontlike wysigings. Cupido het verder gesê die situasie word gemonitor en vra rekenskap oor hoe die aangeleentheid ongesiens gemis is.
Nuusflits het die Stad Kaapstad vir kommentaar gevra.







