Ouers dagvaar dagsorg ná kleuter glo ernstige breinbesering opdoen

Lees ook :

Foto's: Crime Talk

VSA. – Matt en Elena Kittle, ‘n egpaar van Kalifornië, het ‘n siviele eis teen die dagsorg van die Bay Club in El Segundo ingestel. Hul 23 maande oue seun het na bewering ‘n ernstige breinbesering opgedoen toe ‘n werknemer hom tydens spel in die lug gegooi en nie kon vang nie.

Ná die val het personeel die pa van die kleuter gebel en volgens die regsgeding gesê sy seun het slegs sowat 45 sentimeter ver geval en dat dit nie ernstig was nie.

Toe die ouers hul seun later gaan haal, het hulle glo reeds beserings aan sy gesig opgemerk. By die huis het sy toestand versleg. Volgens die hofstukke het hy buitengewoon lomerig en gedisoriënteerd geraak, waarna hy na ‘n hospitaal geneem is. Dokters het later vasgestel dat hy ‘n traumatiese breinbesering, gelokaliseerde gehoorverlies, ‘n oog wat toegeswel was en ernstige kneusplekke aan sy gesig opgedoen het.

Die kleuter word slegs met sy voorletters C.K. geïdentifiseer om sy privaatheid as minderjarige te beskerm. Volgens die hofstukke het die voorval op 17 Maart 2025 plaasgevind. Kamera-opnames wat deel van die regsgeding vorm, wys na bewering hoe die werknemer die kleuter in die lug opgooi, waarna hy op die vloer val. Hulle voer ook aan dat die sentrum aanvanklik die erns van die voorval afgewater het.

Die regsgeding sluit aanklagte van onder meer nalatigheid, aanranding en bedrog in. Die egpaar beweer ook dat die dagsorgfasiliteit sonder die vereiste lisensie bedryf is, hoewel die Bay Club na bewering op ‘n vrystelling staatgemaak het omdat ouers veronderstel is om op die perseel te bly. Volgens die hofstukke laat die klub se beleid ouers toe om die perseel te verlaat en ander nabygeleë sentra te besoek. Die Bay Club het gesê hy lewer nie kommentaar oor hangende litigasie nie, maar het bygevoeg dat die veiligheid en welstand van kinders sy hoogste prioriteit is.

Bronne: CBS LA, ABC News, ABC7 Los Angeles, Los Angeles Times, People.com, News.com.au

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief