KWAZULU-NATAL. – ‘n Pa en sy seun is Vrydagmiddag in Mandeni, aan die Noordkus, met skietwonde beseer, nadat hulle na bewering tydens ‘n woordewisseling deur ‘n buurman geskiet is.
Samantha Meyrick, IPSS Medical Rescue-woordvoerder, sê nooddienste is na die toneel ontbied waar die twee mans met skietwonde aan hul bene aangetref is. Paramedici het hulle op die toneel behandel en gestabiliseer, voordat hulle na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer is.
Die vermeende skieter is later deur beamptes van IPSS Security by sy woning opgespoor. Hy het na bewering probeer om selfdood te pleeg en is ook na ‘n mediese fasiliteit vir behandeling geneem.
Die omstandighede van die skietvoorvalo word deur die Mandeni-polisie ondersoek.





