Brekende Nuus
Nuus

Paartjie met krieketkolf op plaas aangeval

Foto: Ter illustrasie

NOORDWES. – ‘n Man (61) en sy vriendin is met ’n krieketkolf tydens ’n huisroof op ’n plaas by Rhenosterfontein naby Rustenburg aangeval.

Konst. Thuto Bobelo, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits ’n onbekende persoon het vroeg Sondagoggend toegang tot die huis verkry terwyl die slagoffers geslaap het. Die paar is albei in die slaapkamer met ’n krieketkolf oor die kop geslaan. Hulle het ná die aanval drie onbekende mans sien weghardloop. Verskeie items is daarna as gesteel aangemeld, waaronder ’n selfoon, ’n vrieskas met vleis, ’n mikrogolfoond en ’n televisie.

Die slagoffers het mediese behandeling ontvang, maar is nie in ‘n hospitaal opgeneem nie.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die polisie se ondersoek duur voort.