KWAZULU-NATAL. – Midlands EMS het bevestig dat een van die paramedici wat Vrydagaand in ’n ernstige ambulansongeluk in Howick betrokke was, reeds uit die hospitaal ontslaan is en verder tuis herstel. ‘n Tweede lid is egter steeds in die intensiewesorgeenheid.
Die ambulansongeluk het kort ná 21:00 plaasgevind. Een van die paramedici is in die voertuig vasgekeer en moes met reddingstoerusting bevry word. Hy is op die toneel gestabiliseer voordat hy hospitaal toe geneem is. ’n Tweede paramedikus het ligter beserings opgedoen en is op die toneel behandel voordat ook hy vir verdere sorg vervoer is. Volgens dié nooddiens moes die een lid ‘n operasie ondergaan en is steeds in die intensiewesorgeenheid waar sy toestand fyn dopgehou word.
Midlands EMS het hul dank uitgespreek teenoor Netcare 911 en ander nooddienste wat vinnig op die ongeluk gereageer het. Volgens die diens beteken die ondersteuning van kollegas en die gemeenskap baie vir die beseerdes en hul families.





