PARYS, FRANKRYK – Die mode- en skoonheidshuis, Dolce & Gabbana, het onlangs met iets uniek vorendag gekom – ‘n spesiale parfuum vir honde! Die produk genaamd Fefé, is geïnspireer deur Domenico Dolce se geliefde poedel, Fefé.
Hierdie eksklusiewe, alkoholvrye geur, wat as dierevriendelik gesertifiseer is, kombineer note van alang-alang, muskus en sandelhout, en gee jou woef se pels ‘n speelse, maar elegante reuk.
Die parfuum is ontwerp om jou chihuahua, rottweiler, of Jack Russel-terriër se skoonheidsroetine ‘n bietjie ekstra flair te gee. Of jou viervoetige vriend sy eie styl wil afdruk of net ‘n ekstra bederf nodig het, Fefé is die perfekte manier om hom of haar soos ‘n nuwe sikspens te laat ruik. Teen €99 vir ‘n 100 ml-bottel, kan jou woef die glans en geur van mode-ikone beleef.
Bron: Dolce & Gabbana





