KWAZULU-NATAL. – Drie verdagte mans is vroeg vanoggend deur die polisie op Mariannhill doodgeskiet. Hulle was gesoek in verband met ontvoering, bedrog en die onwettige besit van vuurwapens op Greenwood Park.
Kol. Robert Netshiunda, provinsiale polisiewoordvoerder, sê inligting het die polisie na die mans gelei. Hulle het die verdagtes langs Milky Wayweg op Mariannhill in ‘n voertuig opgemerk en het probeer om hulle te stop, maar die bestuurder het die polisie verontagsaam en het weggejaag. Die polisie is agterna, waartydens ‘n skietgeveg uitgebreek het. Die verdagte het beheer oor sy voertuig verloor en het teen ‘n boom gebots. ‘n Skietgeveg het gevolg, waartydens die verdagtes noodlottig getref is.
Geen polisiebeampte is beseer nie. Twee vuurwapens en verskeie rondtes ammunisie op die toneel gevind.





