KWAZULU-NATAL. – ’n Pasgebore babadogtertjie is Dinsdag in ’n inkopiesak in ’n bos in Oakford, KwaZulu-Natal, gevind nadat twee mense haar hoor huil het.
Die baba, wat in ’n swart T-hemp toegedraai was, is deur paramedici ondersoek en gesond bevind. Reaction Unit South Africa sê ’n man en ’n vrou was op pad na ’n plaaslike snoepwinkel toe hulle ‘n baba se gehuil uit ’n bos naby huise gehoor het. Hulle het ondersoek ingestel en die sak met ’n skêr oopgesny. Die baba se naelstring was reeds afgesny, maar nie afgebind nie en die plasenta was ook in die sak.
Tydens opvolgondersoeke het ’n vrou aan nooddienspersoneel gesê sy het Maandagmiddag gesien hoe ’n vrou die sak in die bos weggooi. Rusa-beamptes is steeds besig om ondersoek in te stel en probeer vasstel wie die ma is.
Enigiemand met inligting wat kan help om die vrou op te spoor, kan Rusa se operasionele sentrum by 086 123 4333 bel.
Praat saam: Wat dink jy kan gedoen word om te voorkom dat babas ná geboorte agtergelaat word? Hoe voel jy oor babakluise waar pasgebore babas veilig geplaas kan word en dadelik behoorlike versorging en beskerming ontvang?