VRYSTAAT. – ‘n Pasgebore babaseun is Sondagmiddag, huilend en verlate, met die naelstring nog aangeheg, naby ‘n dreineringskanaal in die Riverside-gebied gevind.
AO Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, sê ‘n veewagter het kort na 16:00, terwyl hy beeste opgepas het, ‘n baba hoor huil. Met nadere ondersoek het hy die pasgebore baba, toegedraai in ’n blou vlieskombers, langs die dreineringskanaal aangetref en dadelik die polisie en nooddienste ontbied.
Die pasgebore babaseun is vir mediese behandeling na ’n plaaslike hospitaal geneem. Die identiteit van die biologiese moeder of ’n moontlike verdagte is nog onbekend. ‘n Saak van poging tot moord word deur die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe in Phuthaditjhaba ondersoek.
Enigiemand met inligting wat met die ondersoek kan help, kan lt.kol. Jwalane Rasunyane by 079 890 0383 bel.





