VRYSTAAT. – Die polisie doen ‘n beroep op die publiek om te help om die ma van ‘n pasgebore babameisie op te spoor nadat die baba verlede week verlate in ‘n huis in Steynsrus aangetref is.
Sers. Josephine Rani, polisiewoordvoerder, sê Steynsrus-polisie het Maandag omstreeks 15:00 op n klagte gereageer nadat ‘n pasgeborene by ‘n verwaarloosde huis in Edwardstraat gevind is. Met hul aankoms is polisiebeamptes na ‘n slaapkamer geneem waar die babameisie sonder klere, toegedraai in ‘n rooi kombers, op ‘n bed gelê het. Nooddienste is onmiddellik ontbied en die baba is na ‘n hospitaal geneem vir mediese behandeling.
Die polisie vra enigiemand wat weet van ‘n vrou wat onlangs geboorte geskenk het en wie se baba skielik verdwyn het, of enigiemand met inligting wat kan help om die kind se ma op te spoor, om met hulle kontak te maak.
Beamptes van die Kroonstad-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS) ondersoek die saak. Enigiemand met relevante inligting word gevra om na vore te kom.





