GAUTENG. – Die polisie in Tshwane het weer ’n ernstige waarskuwing aan die publiek gerig om uiters versigtig te wees wanneer hulle goedere deur aanlyn platforms soos Facebook Marketplace en soortgelyke handelswebwerwe aankoop.
Kapt. Johan van Dyk, Tshwane-polisiewoordvoerder, sê daar is ’n kommerwekkende toename in gevalle waar niksvermoedende kopers deur misdadigers geteiken word wat hulle as wettige verkopers voordoen. Volgens die polisie word lokvalle dikwels gestel deur middel van aantreklike advertensies vir voertuie, selfone, meubels en elektriese toestelle teen pryse wat te goed lyk om waar te wees. Sodra kontak gemaak word, word kopers oorreed om na afgeleë plekke te gaan waar die sogenaamde items besigtig of afgehaal kan word.
Owerhede waarsku dat baie van hierdie voorvalle in afgeleë gebiede in die noorde van Tshwane, insluitend Winterveldt, plaasvind. In baie gevalle word slagoffers beroof van kontant, selfone, voertuie en ander waardevolle items, terwyl ander geld oorbetaal vir goedere wat nooit bestaan het nie. Die publiek moenie deur sogenaamde winskopies mislei word nie en moet altyd verkopers se identiteit bevestig, voordat transakies aangegaan word. Aankope moet verkieslik in veilige, openbare ruimtes, soos winkelsentrums of polisiekantore, plaasvind.
Die publiek word verder aangeraai om nooit geld oor te betaal of deposito’s te maak voordat gekoopte items fisies nagegaan is nie. Daar moet ook nie alleen na sulke tipe ontmoetings gegaan word nie. Familie of vriende moet altyd ingelig word oor hul bewegings wanneer aanlyn transaksies gedoen word.
Die polisie waarsku dat misdadigers al hoe slimmer met hul metodes raak en moedig die publiek aan om waaksaam te bly en enige verdagte situasies onmiddellik te vermy en aan te meld.





