VRYSTAAT. – Die polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen nadat Riano Marries, ‘n 18-jarige plaaswerker, Dinsdag op ‘n plaas by Allemansdrift naby die Gariepdam in ‘n tragiese ongeluk met ‘n oesmasjien omgekom het. Hy het van ‘n stroper gegly, in die lemme beland en is daarna in die mielie-opvangbak van die masjien ingetrek.
Sers. Sinah Mpakane, polisiewoordvoerder, sê die polisie is omstreeks 12:30 deur ‘n kliniek in Gariepdam in kennis gestel dat ‘n jong man ná ‘n plaasongeluk dood verklaar is. Volgens die voorlopige ondersoek het die oorledene op dieselfde plaas gewoon en gewerk. Die bestuurder van die stroper het aan die polisie gesê hy het gevoel die masjien ervaar ‘n blokkasie. Toe hy omkyk, het hy besef wat gebeur het. Hy het die masjien onmiddellik gestop en die beseerde uitgehaal.
Nooddienste is ontbied, maar Marries is met hul aankoms dood verklaar. Die polisie sê alhoewel die ondersoek voortduur, word geen kwaadwillige optrede vermoed nie.





