Brekende Nuus
Misdaad

Polisie kry skape van R180 000 terug

OOS-KAAP. – Lede van die Tsolo-misdaadvoorkomingseenheid het binne een uur 100 skape opgespoor nadat dit Maandagaand uit ‘n kraal in die Sidwadweni-gebied gesteel is.

Kapt. Yolisa Mgolodela, polisiewoordvoerder, sê die polisie het omstreeks 21:30 ‘n klagte ontvang waarna beamptes die kudde ongedeerd in ‘n nabygeleë gebied opgespoor het. Die skape, met ‘n geskatte waarde van R180 000, is aan hul regmatige eienaar terugbesorg. Nog geen inhegtenisnemings is gemaak nie. Die ondersoek duur voort en enigiemand met inligting word versoek om na vore te kom.

Genl.maj. Norman Modishana het die span vir hul vinnige optrede geprys en beklemtoon dat veediefstal nie net ‘n finansiële slag is nie, maar ‘n aanval op ‘n gesin se erfenis en oorlewing. Hy het veeboere aangeraai om krale te beveilig, diere duidelik te merk en verdagte bedrywighede onmiddellik by die naaste polisiekantoor aan te meld.