MPUMALANGA – Die Waterval-Boven-polisie ondersoek ’n voorval waarin ’n man vanoggend vroeg (Woensdag) deur pitbull-honde aangeval en hy gedood is.
Volgens polisiewoordvoerder, lt.kol. Jabu Ndubane, is die liggaam van die man, ’n pasiënt met geestesgesondheidsuitdagings, net ná 05:00 op die pad langs ’n skrootwerf aangetref. Voorlopige ondersoeke dui daarop dat die pitbull-honde en drie ander honde aan die eienaar van die skrootwerf behoort en dat die pitbull-honde bloed aan hulle bekke gehad het. Die slagoffer, wat deur sy familie geïdentifiseer is, is ter plaatse dood verklaar.
Verdere ondersoeke wys dat die voorval omstreeks 02:00 plaasgevind het, toe die man verby die perseel geloop het en die honde na bewering uit die erf gebreek het.





