OOS-KAAP. – Die polisie ondersoek die moord op vier mense nadat hul liggame vroeg Maandagoggend in ‘n woning in die Solomon Mahlangu- informele nedersetting in Walmer aangetref is. Die slagoffers is twee volwasse mans en twee volwasse vroue.
Polisiewoordvoerder kapt. Sandra Janse van Rensburg sê die polisie is omstreeks 00:20 na die toneel ontbied. Met hul aankoms is die vier slagoffers in die woning aangetref. Volgens die voorlopige ondersoek het een man en een vrou langs mekaar in die sitkamer gelê, terwyl die ander man en vrou langs mekaar op ‘n bed in die slaapkamer gevind is. Al vier het veelvuldige skietwonde aan die kop opgedoen en is op die toneel dood verklaar.
Die provinsiale eenheid vir ernstige en geweldsmisdade ondersoek die saak. Dit is in hierdie stadium nog onbekend of enigiets uit die woning gesteel is, en die motief vir die moorde is nog nie vasgestel nie.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die polisie doen ‘n beroep op enigiemand met inligting wat die ondersoek kan help, om na vore te kom. Lt.kol. Monde Sithole kan met relevante inligting by 082 457 2812 gebel word.





