KWAZULU-NATAL. – Die polisie het Dinsdagmiddag 10 November skokgranate en rubberkoeëls gebruik om optoggangers in Che Guevaraweg in Umbilo, Durban, uiteen te dryf nadat lede van die groep volgens die polisie klippe na beamptes gegooi het. Die groep het kort ná 15:00 van hul kampplek oorkant die kantoor van binnelandse sake begin stap. Volgens die polisie het die meeste stokke of ander gevaarlike wapens gedra, terwyl sommige hul gesigte bedek het.
Kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, sê beamptes van die openbare orde polisiëring het die groep voorgekeer en hulle aan ’n tussentydse hofbevel herinner. Die bevel verbied optogte ná 15:00, die dra van gevaarlike wapens en die bedek van gesigte tydens optogte. Volgens Netshiunda het lede van die groep tydens die gesprek klippe na die beamptes begin gooi. Geen beserings is by die polisie aangemeld nie. Die polisie ondersoek die moontlike oortreding van die hofbevel en aanranding op polisiebeamptes.